Forum Sekuriteit help met vervoer van leeus en tiere van Groot-Marico tot Oudtshoorn

Forum Sekuriteit het van 21 Mei tot 23 Mei die beskerming van 12 leeus en twee tiere van Ubuntu Wildlife Sanctuary behartig tydens die verskuiwing van hierdie diere uit Groot-Marico na hulle nuwe tuiste in Oudtshoorn.

Dié verskuiwingsoperasie het ’n konvooi van 23 voertuie met ’n totaal van 70 mense wat die lang pad aangedurf het, ingesluit – dit het 23 uur geduur van Groot-Marico tot in Oudtshoorn en ’n totaal van 3 600 km is afgelê. Forum Sekuriteit het lug- sowel as grondvlakbeskerming gebied deur saam in die konvooi te ry, asook hulle lugvleuel in te span met drie vliegtuie en twee hommeltuie wat om die beurt afgewissel het. Die volle duur van die operasie was 55 ure en het laat Sondagmiddag tot ’n einde gekom.

Volgens Llewellynn Hemmens, verteenwoordiger vir Forum Sekuriteit, het hierdie operasie deel gevorm van Forum Sekuriteit se rol om gemeenskappe by te staan en die beskerming van wild speel ook ’n rol in die weerbaarmaking van gemeenskappe.

Hemmens spreek ook Forum Sekuriteit se dank uit teenoor die SAPD wat verkeer begelei het van Groot-Marico tot in Oudtshoorn, die AfriForum-buurtwagte in Rustenburg, Brits, Groter Moot, Centurion, Kemptonpark, Vanderbijlpark, Sasolburg, Kroonstad, Welkom en Bloemfontein wat gehelp het met logistieke reëlings, regulering van verkeer en die voorsiening van kospakkies. Die Groter Moot-buurtwag het ook ondersteuning gebied met die vervoer van twee siek leeus na die Old Chapel-dierekliniek vir mediese behandeling.

Similar Posts